Basiese behoeftes troef herwinning

Standard
                                                                                                                                                                                         Foto: Jaco-Mari Futcher

(Nota: Hierdie berig is vir klasdoeleindes geskryf en is reeds in Junie 2017 in Potchefstroom Herald gepubliseer.)

 

“Oorhoofse behoeftes word eerste gestel – as jy nie genoeg geld vir noodverligting het nie, is daar ook nie genoeg geld vir herwinning nie.” – Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter.

 

Hoewel aardbewoners al jare gemaan word om herwinning die groen lig te gee, is dit steeds nie vir die Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit moontlik om herwinningsprogramme by hul basiese dienslewering in te sluit nie.

Die grootste struikelblokke op dié munisipaliteit se herwinningspad is die gebrek aan personeel, toerusting en geld, volgens die woordvoerder, Willie Maphosa. Hy het gesê die munisipaliteit word al hoe groter en daar is noodsaaklike dienste wat dringende aandag verg.

Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter in die Tlokwe-Ventersdorp-raad, het dit beaam.

“Ons grootste fokus is om in mense se behoeftes te voorsien wat nie tot die noodsaaklike dienste soos sanitasie toegang het nie. Oorhoofse behoeftes word eerste gestel – as jy nie genoeg geld vir noodverligting het nie, is daar ook nie genoeg geld vir herwinning nie.”

Volgens Maphosa is rommelverwydering by huise, die instandhouding van publieke areas en die bekamping van onwettige rommelstorting onder die basiese dienste waarop die munispaliteit nou konsentreer.

 

Die munisipaliteit het vanjaar R120 000 per wyk beskikbaar vir dienste aan inwoners. Al verskil die grootte en populasie per wyk, bly die bedrag konstant.

 

“Ons het gereelde skoonmaakveldtogte waarby die stadsraad en kontrakteurs betrokke is om gewilde areas by alle uitbreidings, insluitend Promosa, Mohadin en Ikageng, skoon te maak,” het Maphosa gesê.

Moolman het gesê herwinning in Suid-Afrika kan nie volhoubaar wees voor armoede en werkloosheid aangespreek word nie. Hy het verduidelik dat dit in luukser areas soos Tuscany Ridge makliker sou wees om herwinning te implementeer, omdat meer ontwikkelde areas nie soveel geld vir instandhouding soos minder ontwikkelde areas verg nie.

Die munisipaliteit het vanjaar R120 000 per wyk beskikbaar vir dienste aan inwoners. Al verskil die grootte en populasie per wyk, bly die bedrag konstant.

Wyk 9 van die Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit, ’n gedeelte van Mohadin, het byvoorbeeld volgens Wazimap se sensusopname in 2011 ’n bevolkingsyfer van 7 592 gehad. Toe het 79% van die inwoners elektrisiteit gehad, 19,2% geen toegang tot enige toilette nie en 55,1% dienste ontvang wat rommel verwyder.

2011 het daar in wyk 14 in Ikageng 4 468 mense gewoon. Toe het 99,3% elektrisiteit gehad, 3% geen toegang tot enige toilette nie en 99,1% dienste ontvang wat rommel verwyder. Albei wyke moes toe ook met dieselfde begroting die wa deur die drif trek.

Herwinning is duur. Moolman het gesê om herwinningsdienste te implementeer moet daar onder meer personeel wees om die herwinbare materiaal apart van gewone rommel op te laai, ’n fasiliteit vir sortering en chemiese prosesse, asook die nodige masjinerie. Tlokwe-Ventersdorp het dit nie.

Potchefstroom se inwoners is dus genoop om van vier herwinningsmaatskappye in die privaatsektor gebruik te maak. Volgens Dewald van Breda, voorsitter van die Potchefstroom-Tlokwe-sakekamer en eienaar van die herwinningsmaatskappy Potch Plastics, is al die aanlegte in Potchefstroom “redelik besig.”

Maphosa het gesê die munisipaliteit probeer om minstens 30% herwinbare materiaal uit die rommelsiklus te ontgin om sodoende meer spasie op die munisipale stortingsterrein te skep. Informele ontginning van herwinbare materiaal vind tussen die verwydering van rommel by huise en (ook by) die opvullingsterrein plaas.

Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit se syfers wys daar is verlede jaar 2 423,92 ton herwinbare materiaal uit die stortingsterrein in Potchefstroom ontgin. Teen einde Maart vanjaar het dié syfer op 304,44 ton gestaan.

Volgens Maphosa benader die munisipaliteit herwinning deur middel van bewusmakingsveldtogte. Veldtogte word by kleuter-, hoër- en laerskole gehou en praatjies word op Aganang FM uitgesaai.

“Ons omgewingsafdeling het skole die  laaste paar jaar van herwinningsdromme voorsien en sommige verskaf steeds herwinbare materiaal aan die herwinningsmaatskappye,” het Maphosa gesê.

Ruben Jacobs, hoof van die Laerskool Mooirivier, het bevestig dat die munisipaliteit ongeveer vyf jaar gelede herwinningsdromme by dié skool geplaas het, “maar hulle [die munisipaliteit] kom haal dit [die afval] in elk geval nie”. Jacobs het gesê sedertdien was daar “geen pamflet, praatjie of besoek nie”.

Volgens die hoof van die Hoërskool Ferdinand Postma, Antoon Labuschagne, was die munisipaliteit “nog nooit” by hulle met ’n bewusmakingsveldtog nie. Lebogang Setsiba, sekretaresse by Ikageng Primary School, is ook nie bewus van enige bewusmakingsveldtogte wat onlangs deur die munisipaliteit by dié skool gehou is nie. Ra’eesah Haffejee, wiskunde-onderwyser by Promosa Primary School, weet van bewusmakingsveldtogte by hulle, maar is nie seker of dit met die munisipaliteit verband hou nie.

Al vier skole het wel herwinningsdromme op die terrein.

Die Tlokwe-Ventersdorp-raad beoog om die herwinningsforum wat in 2011 gestig en toe weens politieke invloede ontbind is, te hervestig. ’n Gedeeltelik-elektroniese fasiliteit by die stortingsterrein wat die rommel op ’n vervoerband sorteer, word ook beplan – die rommel word nie by die huishoudings geskei nie. Hulle wil ook die bestaande tuinafvaltoevoerstasie uitbrei, het Maphosa gesê.

Advertisements