“Mense weet nie hoe hulle praat” – prof. Daan Wissing

Standard

(Nota: Hierdie onderhoudsprofiel is in September vir klasdoeleindes geskryf.)

Prof. Daan gesels oor die onverwagsheid en sistematiek van spraakklanke, tegnologie en “aftrede”.

Prof. Daan Wissing, skuif rats agter sy rekenaar in met die talle oop lêers aan die onderkant van die skerm. Die beelde in die lêers lyk amper soos ’n hartklop – golwe en vibrasies wat effe aan dié in Fisiese Wetenskappe herinner.

Hy is ’n doener. Prof. Daan gesels nie lank voor sy geesdrif om te demonstreer hom takel nie. Die onverwagsheid en sistematiek van spraakklanke prikkel hom. “Dat ’n mens praat soos jy praat en nie weet jy praat só nie,” sê hy rustig met sy hande in mekaar gevou. “Kom ek kyk sommer of ek vir jou ’n voorbeeld kan gee.”

 

21533616_816709665178328_2003189208_o

Prof. Daan Wissing, deskundige in fonetiek en fonologie, sê dit is onthullend oor die menslike wese wat glad nie weet hoe hulle praat nie.

 

Daar is ongeveer tien sekondes stilte terwyl hy rondklik. Dan begin hy praat.  “Byvoorbeeld as ‘n mens nou gaan luister na die nuus van RSG (Radio Sonder Grense) – die mense sê hulle behoort Standaardafrikaans te praat as hulle die nuus lees. En dan doen hulle allerhande goed soos die gewone assimilasie – ‘minder’, sommer net ‘minner’ en nie ‘minder’ nie of ‘allerande’ en nie ‘allerhande’ nie.”

Prof. Daan is ’n senior navorser by die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat volgens hul webtuiste menslike taaltegnologie navors en taaltegnologiese produkte vir Suid-Afrikaanse tale skep.  Hoewel hy reeds meer as 16 jaar gelede “afgetree” het, is hy op sy pos agter die lessenaar met die talle elektriese drade, rekenaarmuise, geheuestokkies en oorfone op. Soos Prof. Daan daar in sy kantoor sit, kamer 125 van die Frans du Toit-gebou (E9), het hy Februarie vanjaar 76 geword.

Hy glimlag terwyl hy verduidelik. Hy verwys na ’n minder bekende verskynsel wat hom tydens weervoorspellings opgeval het. “As hulle nou by Cradock kom, dan ‘Crarock’ hulle. Dit het ek nooit raakgeluister nie.” Toe hy op ’n databasis van nuusbulletins spesifiek soek vir gevalle waar ’n ‘-d-’ tussen twee vokale staan, het onder meer “Vrerendal” (Vredendal) en “misdarigers” (misdadigers) verskyn.

“Misdarig.” Hy kyk my stip in die oë en vra of ek daarvan bewus is. Ek is nie. “Niemand weet dit nie. Ek luister al meer as veertig jaar lank na Afrikaans met die oog op beskrywing van goed en ek het dit nog nooit agter gekom nie,” sê hy.

‘Hanne’ (hande), ‘tanne’ (tande), ‘perre’ (perde), ‘wille’ (wilde), ‘innie’ (in die) en ‘oppie’ (op die) kom meer algemeen voor.

Die sistematiek agter uitsprake interesseer hom, omdat “jy nie sommer enige ding kan verander nie.” “Net in bepaalde omstandighede, dikwels in bepaalde style van praat, gebeur daar goed met taal wat heeltemal sistematies is waarvan ons heeltemal onbewus is en dit interesseer my.”

Hy sê mense kan byvoorbeeld die ‘-r-’ in “Vereeniging” weglaat en “Ve-eeniging” sê, maar nie “ooi” in plaas van “rooi” sê nie.

Prof. Daan werk tans aan ’n vier jaar lange projek vir Taalportaal wat einde 2018 volledig behoort te wees. Op dié aanlynplatform vir Nederlandse, Afrikaanse en Friese taalkunde, skryf hy die afdelings oor Afrikaanse fonetiek en fonologie.

“Dit is ’n volledige, omvattende grammatika van die Afrikaanse fonetiek en fonologie en hy kom uiteindelik in hierdie formaat op die internet wat baie Wikipedia-agtig is, so jy kan alles interkatief gaan soek,” sê hy met sy linkerwys- en duimvinger wat sy gesig ondersteun en sy regterhand wat na die rekenaar wys.

 

21439435_816709708511657_1281007226_o

Prof. Daan verduidelik hoe hy verskynsels sien en hoor om dit as voorbeelde van sy teorieë te bevestig.

 

Hy sê in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014) fonetiek bestudeer “die produksie, oordrag en persepsie, van afsonderlike spraakklanke” en fonologie  “die werking van daardie klanke”.

“Dis nou hulle hierdie,” snuffel hy op Taalportaal se tuisblad.  Hy lag onverwags, daar is sy foto sommer. “Toevallig is daar iets van my op. Hulle (Taalportaal) vervang hulle (foto’s van die navorsers op die tuisblad) so elke paar minute en myne was nou juis toevallig daar op.”

Die voëls kwetter deurgaans en in die omliggende kantore klink dit gesellig. Iemand lag ’n paar keer in die agtergrond.  Party moet reeds op middagetebreek wees.

Hy sê baie van die werk vir Taalportaal is al gedoen, maar nog nie op die webwerf gelaai nie. “Ons moet dit in Engels skryf want die internasionale gemeenskap moet dit kan lees en verstaan,” hy sug liggies. “As ‘n mens dit in Afrikaans skryf, al gaan dit oor Afrikaans, gaan baie mense dit nie kan lees nie.”

Die tegnologiese spronge in sy veld sedert die beginjare is vir hom verbysterend. “In die outyd moes jy maar sit en voorbeeldjies uitdink, dan skryf jy dit op en die mense moet jou maar glo. Maar met hierdie ding (Taalportaal) kan jy nou die klank insit en dan kan hulle self gaan luister.”

Nou het hy byvoorbeeld ’n databasis van RSG-nuusbulletins waar hy die verskynsels en die sprekers van sy keuse kan intik om te sien hoe gereeld dit voorkom.

Hy gly weer vinnig met sy stoel rekenaar toe. “Ek is nou verleid om vir jou iets te wys. Sê nou maar die woord ‘nadat’… sou jy sê daai ‘-d-’ kan ’n ‘-r-‘ word? ‘Narat’?” Hy speel al Johann Russouw se nadats. Praat, ’n toepassing wat dit onder meer moontlik maak om die klankgolwe van ’n woord te sien en waar dit in iemand se mond vorm, maak dit makliker om ’n verskynsel te verduidelik.

My dear, my dear, daar was nog nie eers ‘n woord soos taaltegnologie toe ek my doktorsgraad gedoen het nie en dis 1971. Ek het eers hier in die laat tagtigs met hierdie goed begin,” sê hy toe ek vra of die doktorsgraad wat hy in Utrecht (Nederland) gedoen het in Taaltegnologie was. Dít het hy in Algemene Taal- en Literatuurwetenskap gedoen.

Hy reis begin Oktober saam met sy vrou, Marié, na Wene (Oostenryk) om saam met ’n oorsese medewerker ’n artikel af te rond. Prof. Marié is eintlik ook “afgetree” en is tans ’n navorsingsprofessor by die NWU se Gesondheidswetenskappe. Sy is ’n spreker by ’n  internasionale kongres in Innsbruck (Oostenryk).

Ná talle bekronings en internasionale reise vir sy navorsingswerk, twee Comerades-marathons en twee Ysterman-driekampe, wat is die volgende mylpaal? “Jong ek werk nie meer met sulke groot mylpale nie.” Om die onderskeie verskynsels van die fonologiese prosesse volledig te bespreek  en vorige werk met nog voorbeelde te verryk is van sy eerskomende doelwitte.

Een van sy studente-assistente kom in om haar werk wat tot sy databasis bydra op ’n geheuestokkie vir hom te gee. “Het dit maklik gegaan, kan ek dit maar vir jou teruggee as dit half gedoen is?” spot hy voor sy loop.

“Ek is afgetree, maar nog nie morsafgetree nie,” sê hy laggend. Vir die egpaar is dit daagliks ’n brandende vraag – wanneer om uiteindelik af te tree. “Jy vra ’n vraag wat ek en my vrou wat ’n professor in Sielkunde is…,” sê hy onsamehangend toe ek vra wanneer gaan hy weet hy moet stop. “Ek en my vrou is nog van die ou geslag akademici. Ek praat nie eers van vakansie nie. Die week in Innsbruck wat sy by die kongres is, het ek ‘n groot stuk werk wat ek wil afhandel.”

Hoewel hulle basies dag en nag, naweke en vakansies werk, werk,werk, is hulle baie lief vir die natuur en oefening is en stap dus daagliks langs die dam.

Intussen is daar ’n groot waarskynlik dat Prof. Daan jou kan voorkeer om sekere woorde uit te spreek.

Advertisements

Geslag, gender nie altyd pasmaats

Standard
                                                                                                                                                                                                                   FOTO: Vimeo

(Nota: Hierdie feature is in September 2017 vir klasdoeleindes geskryf.)

 

“(Gender) verwys na die sosiaal gekonstrueerde verwagtinge en rolle wat aan persone gekoppel word op grond van hul biologiese geslag.” – Dr. Jacques Rothmann, deskundige in gender-  en  LGBT-studies

 

Hy staar onrusbarend na die spieëlbeeld van ‘n skoongeskeerde man met platgekamde hare, geklee in ’n noupassende glanserige hemp. Ná ’n ruk transformeer dié beeld in ’n selfversekerde vrou met golwende, platinumblonde hare en dramatiese grimering.

Dié toneel uit die video “Queen” van die musiekgroep Perfume Genius, is maar een voorbeeld van hul talle werke met ’n skerp fokus op genderidentiteit.  Die hoofsanger Mike Hadreas se persona met die sagte blos op sy wange, lipstiffie en pienk frillerige baadjie, soos in van die musiekvideo’s, trap met sy hoëhakskoene op gendernorme.

 

perfum sloip

Mike Hadreas, in Perfume Genius se musiekvideo, “Slip away”.                                FOTO: Scoopnest

 

Soos Hadreas, is daar menige mense wie se geslag en gender nie pasmaats is nie. Hoewel  die samelewing se beskouing en bewustheid van gender tans onder metamorfose is, met veral sosiale media as versneller, word geslag, gender en seksualiteit steeds deur sommige as ’n potato-potáto-geval gesien.

Dr. Jacques Rothmann, deskundige in gender-  en  LGBT (Lesbian, Gay, Bisexual and Transgender)-studies en Sosiologiedosent aan die NWU-Puk, sê geslag omvat die biologiese onderskeid tussen individue op grond van hul geslagsorgane. Volgens Rothmann kan sosiale wetenskaplikes wel gender en geslag verbind indien hulle geslag ook as ’n sosiale konstruksie ag.

 

Hoewel  die samelewing se beskouing en bewustheid van gender tans onder metamorfose is, met veral sosiale media as versneller, word geslag, gender en seksualiteit steeds deur sommige as ’n potato-potáto-geval gesien.

 

“(Gender) verwys na die sosiaal gekonstrueerde verwagtinge en rolle wat aan persone gekoppel word op grond van hul biologiese geslag – dus mans moet ‘manlik’ en vroue ‘vroulik’ optree,” sê Rothmann.

Mense wat glo gender het net twee kategorieë (manlikheid en vroulikheid) en dat heteroseksualiteit die enigste roete is, maak Lisa Immelman warm onder die kraag. Sy leef haar vrouwees uit in enige vorm en voorbeeld en sý het die mag om dit te verduidelik (of nie). Dié derdejaarstudent in BA taal en literatuurstudie aan die NWU-Puk, het eers op universiteit besef sy hoef nie net een genderrol binne haar verhoudings met vroue aan te neem nie.

Immelman se broer identifiseer as non-binary/ genderqueer, wat volgens Rothman kategorieë is waar individue tradisionele genderrolle deur middel van onder meer gedrag en kleredrag direk uitdaag. “Hy dra een dag baie make-up en die ander dag niks en baie mense sal hom as ‘ma’m’ groet.”

 

“Did you just assume my gender?” – Lisa Immelman

 

“Did you just assume my gender?” is ’n gunsteling sêding in Immelman se vriendekring. Immelman meen hoewel “ons is nou in ‘n tyd waar dit okay is om anders te wees”, is daar ’n tekort aan verdraagsaamheid. “Deur vir iemand te sê hy of sy tree nie volgens jou persoonlike persepsie van gender op nie, is beledigend.”

Immelman glo nie seksuele voorkeur en gender hou verband nie, omdat “liefde, liefde is”. “Seksuele voorkeur word bepaal deur jou siel en nie jou gender nie.”

Gender en seksualiteit word soms foutiewelik uitruilbaar gebruik en is meestal op die cisgender-model gebaseer wat beteken individue identifiseer met die geslag waarmee hulle gebore is, sê Rothmann. Hy sê heteronormatiwiteit (die argument dat heteroseksualiteit die aanvaarbare norm is) skep die verwagting dat daar ’n verband is.

Hy verdeel seksualiteit in “gedrag” en “oriëntasie”, waar “gedrag” onder meer seksuele omgang, kleredrag en optrede insluit, terwyl “oriëntasie” fisiese, psigiese en emosionele aangetrokkenheid tot persone impliseer.

Shen Scott, ’n gegradueerde in BSc sielkunde en menslike fisiologie aan die Universiteit van Pretoria (UP), hou daarvan om te braai, bier te drink, die voorsiener in ’n verhouding te wees, en genderrole en stereotipes uit te daag. Vroueklere is vir hom aantreklik en pas goed, hy glo grimering lyk amazing aan almal en dat die gender-seksualiteitskakel uitgedaag moet word.

Scott sê gender is iemand se persoonlike begrip en uidrukking van identiteit en kan enige vorm aanneem wat hy/sy/hulle verkies. “(Gender is) ’n waardering en aanneming van manlike of vroulike energie en estetika of glad niks nie.”

Die transgendergemeenskap waar seksuele voorkeur dieselfde bly ten spyte van ’n geslagtelike verandering is vir Scott ’n bewys dat seksualiteit en gender nie met mekaar skakel nie.

Scott ag onkunde as die grootste belediging en dat individue eerder oor gender moet oplees en na gesprekke luister om ingeligte uitlatings te kan maak. “Dit is beledigend om vir ander mense te sê wat jy dink hul lewens is en hoe dit geleef moet word.”

Hy het al ervaar dat mense hom stereotipeer om kennis van karre en sport te hê oor hy ‘n man is, sê Scott. “Ek sien ook dat ek as meer professioneel, kundiger en ryker as my vroulike vriende geag word.”

 

“Ek sien ook dat ek as meer professioneel, kundiger en ryker as my vroulike vriende geag word.” – Shen Scott

 

Hoewel dit teen die Suid-Afrikaanse Grondwet indring om teen persone op grond van gender te diskrimineer, word tradisionele eienskappe van vroue soms in die werkplek gesoek, terwyl patriargie ook in gevalle voorkom, sê Rothmann.

’n Lid van die Student Advocating Leadership and Transformation (S.A.L.T.), wat ’n diploma in Sportkunde aan die NWU-Puk doen, sê as vrou in die sportbedryf weet sy sy moet harder as mans werk om haarself te bewys vir dieselfde hoeveelheid aandag, selfs al het sy meer kennis oor die onderwerp.

Mpumelelo Twala, tweedejaarstudent in BA ontwikkeling en bestuur aan die NWU-Puk, het ’n anatomiese blik op gender – hy beskryf dit as die onderskeid tussen manlik en vroulik. Twala meen gender gaan oor iemand se fisiese voorkoms, maar dat aanmerkings oor kleredrag en voorkoms wat verwagtinge uitdaag, kwetsend is. Weens die samelewing se heteronormatiwiteit voel hy daar is ’n definitiewe verband tussen gender en seksualiteit.

 

Etikette maak hom (Ruan Fourie) ongemaklik, hy probeer  net so nou en dan ’n decent mens wees.

 

Volgens Ruan Fourie hou individue se genderervaring met hul psigiese ervaring van hul identiteit verband en is nie noodwendig biologies nie, daarom dink hy ook nie dit waartoe jy aangetrokke is hou met gender verband nie.

Fourie, honneurstudent in Skryfkuns, trek meestal soos ’n man aan en tree soos een op, maar verkies om nie dit genoem te word nie. Etikette maak hom ongemaklik, hy probeer  net so nou en dan ’n decent mens wees.

 

Geloof in skole: Ogod-hofsaak bring onsekerheid oor Potchefstroomse skole

Standard

(Nota: Hierdie berig is vir klasdoeleindes geskryf, voor die Ogod-hofuitspraak gelewer is.)

Potchefstroom word dikwels aan sterk Christelike waardes gekenmerk. Die uitkoms van die Ogod-hofsaak teen ses skole wat hulself as Christelik identifiseer, gaan geloofsbeleide in skole egter landswyd roer. Marita Herselman het gekyk na die golwe wat die Ogod-hofsaak in Potchefstroomse skole maak.

 

christene

’n Skermafdruk van Laerskool Moorivier se webtuiste. Dit is een van die talle Potchefstroomse skole wat as Christelike instansies op hul webwerwe identifiseer.

 

Potchefstroomse skole wag om te hoor of die “Christelike mat” deur die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie (Ogod) onder hulle uitgeruk gaan word.

Inligting op die webtuistes van Potchefstroomse skole wys dat die meerderheid in Christelike waardes geanker is.  Die hofbeslissing van Ogod se saak teen die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), verteenwoordiger van die ses skole wat hulself as Christelike instansies beskou, hou onsekerheid vir Potchefstroomse skole in.

Ogod het die saak om die geloofsbeleid van Laerskool Randhart, Laerskool Baanbreker, Laerskool Garsfontein, Hoërskool Linden, Hoërskool Oudtshoorn and Oudtshoorn Gimnasium as ongrondwetlik te verklaar, Augustus 2014 teen die skole by die Suid-Gautengse hooggeregshof ingedien, berig Netwerk24. Die saak is volgens The Huffington Post South Africa op 14 tot 17 Mei aangehoor en die hofuitspraak word voorbehou.

Een van die deelnemers aan ’n anonieme aanlynvraelys vir Potchefstroomse gemeenskapslede, ’n ma van ’n kind wat nie Christelik is nie, sê daar is te veel druk op skoliere om Christene te wees. Sy sê kinders boelie ander wat nie tot die geloof behoort waaraan ’n skool voorkeur gee nie.

’n Ander deelnemer sê kinders wat nie aan Protestante-kerke behoort nie voel uitgesluit – “net soos wat ’n Christen-kind sou voel as hy of sy teen wil en dank betrek word by ’n Moslem/Hindoe/Joodse godsdiensaangeleentheid.”

Doeltreffende, toekomsgerigte Christelike onderwys. Só lui Laerskool ML Fick se visie op hul webtuiste. Lourie van der Merwe, skoolhoof, wil egter nie “op hierdie stadium”  van die hofgeding uitlatings oor hul geloofspraktyke maak nie.

 

’n Ander deelnemer sê kinders wat nie aan Protestante-kerke behoort nie voel uitgesluit – “net soos wat ’n Christen-kind sou voel as hy of sy teen wil en dank betrek word by ’n Moslem/Hindoe/Joodse godsdiensaangeleentheid.”

 

Hoewel Laerskool Mooirivier se webtuiste ook nie daarvan ’n geheim maak dat hulle op Christelike waardes gebaseer is nie, wil Ruben Jacobs, skoolhoof, op aanbeveling van hul regsverteenwoordiger geen kommentaar op hul godsdiensbeleid lewer nie. Luidens dié skool se visie wil hulle “kinders met liefde en deernis opvoed om hulle volle potensiaal as Christene in die wêreld te verwesenlik en om ‘n leidende rol op akademiese, kulturele en sportgebied te speel.”

Volgens Laerskool Mooirivier se webwerf bied hulle onder meer Bybelvasvrae as akademiese sport aan,  waarin 12 gr.6 en gr.7-leerders in spanne van vier die Bybel verken.

Adv.  Nic Laubscher, voorsitter van Laerskool Mooirivier se beheerliggaam en in beheer van die skool se regsaspekte, sê hulle wag op die hofuitspraak rakende die onderwerp,  waarvolgens Laerskool Mooirivier sal voortgaan om die godsdiensbeleid te herevalueer. “Geloof binne die konteks van openbare skole is ’n uiters sensitiewe saak en word gevolglik só deur Laerskool Mooirivier hanteer en aangespreek,” sê Laubscher.

Volgens Roelof Oosthuizen, hoof Potchefstroom Gimnasium, is die doel van dié skool se geloofsbeleid egter nie om mense na Christenskap te bekeer nie, maar die huidige Christene te ondersteun. “’n Skool moet die gemeenskap dien en as die meerderheid van die gemeenskap se kinders ’n behoefte tot Christenskap het, moet ons probeer om dit te ondersteun.”

Daarenteen meen Hans Pietersen, voorsitter van Ogod, die Grondwet beskerm alle leerlinge en nie net die meerderheid nie, berig Netwerk24. Pietersen sê sy doel is om te verseker dat die Grondwet in skole geïmplementeer word en nie om godsdiens uit skole te verbied nie.

 

Die Grondwet beskerm alle leerlinge en nie net die meerderheid nie. –  Hans Pietersen, voorsitter van Ogod

 

Hoewel Oosthuizen vertel hulle open en sluit alle funksies af met skriflesing en gebed, het hy benadruk dat “geen godsdiens gedurende klastyd betrek word nie” en “geen kind word gedwing om aan religieuse praktyke deel te neem nie”.

Skriflesing en gebed by onder meer saalbyeenkomste is ook vir Laerskool Baillie Park en Hoër Volkskool Potchefstroom belangrik. Albei skole beklemtoon wel leerders het die vryheid om nie aan religieuse aktiwiteite deel te neem nie.

Piet Müller, hoof van Laerskool Baillie Park noem daar word voor klas “geopen”, waar die leerders toestemming het om daardie gedeelte van die klas te mis.

Tydens religieuse bedrywighede soos gewyde sang by Laerskool Baillie Park, sal diegene wat verkies om dit nie by te woon nie, onder toesig aan aktiwiteite in ander klaskamers deelneem.

Müller sê wanneer die ouers die inskrywingsvorms voltooi, word daar bepaal van watter geloof die skolier is. Die ouers word dan vooraf duidelik in kennis gestel dat die skool Christelik van aard is en hoe die leerder geakkomodeer kan word.

Gerhard Swart, waarnemende hoof van Hoër Volkskool Potchefstroom, sê geloof in skole is ’n geval van tradisie en “’n ding van ou model-C skole”. “Ons almal is maar erg op geloof. My ouers en hulle ouers het só grootgeword.”

 

Geloof in skole word onder meer as “morele kompas” en grondlegger van lewensfilosofieë geprys.

 

Swart beskou skole as belangrike rolspelers om Christenskap in stand te hou, aangesien al meer mense minder getrou kerk toe gaan – “ons wil nie hê Christenskap moet verdwyn nie”.

Volgens Antoon Labuschagne, hoof van Hoërskool Ferdinand Postma, duur hulle voort met dieselfde geloofsbeleid totdat hulle opdrag van Fedsas ontvang om dit te verander. Labuschagne wou nie op die skool se geloofsbeleid uitbrei nie, weens die “sensitiwiteit van die saak”.

Vyf van dertien deelnemers aan die anonieme aanlynvraelys het aangedui “geloof moet glad nie met skole geassosieer word nie”, terwyl ses deelnemers sê “die geloof van die meerderheid moet in skoolaktiwiteite ondersteun word, mits die minderheidsgroepe die vryheid het om nie deel te neem nie.”

Verder sê een “religieuse aktiwiteite in die skoolomgewing moet slegs op aanvraag van skoliere plaasvind”, terwyl ’n ander “religieuse aktiwiteite moet slegs as buitemuurse skoolaktiwiteite plaasvind” kies.

Onder die deelnemers voel talle daar moet ruimte geskep word waar die leerders van mekaar se gelowe kan leer. Skriflesing en gebed kom ook as belangrik vir baie voor.

Geloof in skole word onder meer as “morele kompas” en grondlegger van lewensfilosofieë geprys, maar die tyd sal leer hoe geloofspraktyke in Potchefstroomse skole gaan lyk wanneer uitspraak op die Ogod-hofsaak gelewer word.

 

Fliekresensie: The Bang Bang Club Dood fotograwe se brood

Standard
                                                                                                                                                    FOTO: Covering Media

(Nota: Hierdie resensie is in Mei 2017 vir klasdoeleindes geskryf.)

 

’n Goeie rolprent is een wat nog lank in jou gedagtes spook – The Bang Bang Club se etiese kwessies teister jou soos die dooies wat dié fotojoernaliste “geskiet” het.

 

The Bang Bang Club (2011) bied ’n blik op joernaliste se rol as waarnemers en dokumenteerders en die psigoligiese tuimeltruim wat met dié verantwoordelikheid teenoor die samelewing gepaard gaan.

Dít verbeeld ook ’n onbekende apartheidsprentjie aan mense wat onkundig is oor die politieke intriges tydens die vredesonderhandeling voor demokrasie in Suid-Afrika.

Dié fliek van Steven Silver is op Greg Marinovich en João Silva se outobigrafiese boek The Bang-Bang Club: Snapshots from a Hidden War (2002) gebaseer. The Bang Bang Club fokus op geweld in Gautengse townships tussen ondersteuners van die Inkhata-Vryheidsparty, oorwegend Zoeloes, en die ANC.

 Dié politieke teenstanders moor mekaar uit, omdat “hy nie Zoeloe is nie, hy is Xhosa soos Mandela en verdien om dood te gaan” en andersom. The Bang-Bang Club word deel van die oorlog wanneer hulle daaroor verslag doen.

 

Dit is ’n boeiende rolprent en elemente soos die kamerskote, klankbaan en toneelspel skep ’n oortuigende scenario.

 

Dié vier Bang-Bang fotojoernaliste, Kevin Carter (Taylor Kitsch), Ken Oosterbroek (Frank Rautenbach), João Silva (Neels van Jaarsveld) en Greg Marinovich (Ryan Phillippe) jaag die dood en geweld soos aasvoëls na.  “Almal wil aan die einde van die dag met die beste skoot terugkom,” sê Carter in die fliek. Die ironie word uitgebeeld wanneer Carter as’t ware in ’n spieël kyk wanneer hy in Soedan ’n aasvoël afneem wat wag vir ’n dogtertjie om te sterf tydens ’n hongersnood.

“Van wanneer af is joernaliste gevrywaar van mense help?” was maar net een van die vrae waarmee joernaliste in die fliek Carter peper ná aanleiding van die dogtertjie se lot. Tot watter mate mag en moet joernaliste inmeng by die storie wat hulle wil vertel? Dié vraag is veral relevant in die internetera wat dit vir gewone mense moontlik maak om berigte te skryf en te publiseer.

Die vier hoofkarakters kom aanvanklik as charismatiese, opwindingsvrate voor, totdat die ongeluk wat hulle elke dag aanskou hul eie groep tref. Die gesogte Pulitzer-prys en massiewe bewondering in die mediawêreld is vir baie nie genoeg om die gewete te sus ná hulle mense nie fisies gehelp het nie, maar eerder hul stories van pyn met foto’s weergegee het.

Dit is ’n boeiende rolprent en elemente soos die kamerskote, klankbaan en toneelspel skep ’n oortuigende scenario. Die opgewekte musiek terwyl mense ween, deur dood omring word en hul lewens letterlik in vlamme wegkwyn, met fotograwe wat dit afneem, versterk die ironiese ondertoon.

 

Die vier hoofkarakters kom aanvanklik as charismatiese, opwindingsvrate voor, totdat die ongeluk wat hulle elke dag aanskou hul eie groep tref.

 

Die kamerawerk is simplisties en voel met tye asof een van die vier die verfilming doen, wat beweging skep en die kyker binne die aksie plaas.

Die rolle word oortuigend vertolk, hoewel internasionale akteurs, veral Kitsch nie van sy aksent kan wegkom nie. Daarenteen kan Phillippe vir ’n Suid-Afrikaner aangesien word.

’n Goeie rolprent is een wat nog lank in jou gedagtes spook – The Bang Bang Club se etiese kwessies teister jou soos die dooies wat dié fotojoernaliste “geskiet” het.

RATING: 7,5/10

Kyk die lokprent hier!

 

 

Basiese behoeftes troef herwinning

Standard
                                                                                                                                                                                         Foto: Jaco-Mari Futcher

(Nota: Hierdie berig is vir klasdoeleindes geskryf en is reeds in Junie 2017 in Potchefstroom Herald gepubliseer.)

 

“Oorhoofse behoeftes word eerste gestel – as jy nie genoeg geld vir noodverligting het nie, is daar ook nie genoeg geld vir herwinning nie.” – Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter.

 

Hoewel aardbewoners al jare gemaan word om herwinning die groen lig te gee, is dit steeds nie vir die Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit moontlik om herwinningsprogramme by hul basiese dienslewering in te sluit nie.

Die grootste struikelblokke op dié munisipaliteit se herwinningspad is die gebrek aan personeel, toerusting en geld, volgens die woordvoerder, Willie Maphosa. Hy het gesê die munisipaliteit word al hoe groter en daar is noodsaaklike dienste wat dringende aandag verg.

Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter in die Tlokwe-Ventersdorp-raad, het dit beaam.

“Ons grootste fokus is om in mense se behoeftes te voorsien wat nie tot die noodsaaklike dienste soos sanitasie toegang het nie. Oorhoofse behoeftes word eerste gestel – as jy nie genoeg geld vir noodverligting het nie, is daar ook nie genoeg geld vir herwinning nie.”

Volgens Maphosa is rommelverwydering by huise, die instandhouding van publieke areas en die bekamping van onwettige rommelstorting onder die basiese dienste waarop die munispaliteit nou konsentreer.

 

Die munisipaliteit het vanjaar R120 000 per wyk beskikbaar vir dienste aan inwoners. Al verskil die grootte en populasie per wyk, bly die bedrag konstant.

 

“Ons het gereelde skoonmaakveldtogte waarby die stadsraad en kontrakteurs betrokke is om gewilde areas by alle uitbreidings, insluitend Promosa, Mohadin en Ikageng, skoon te maak,” het Maphosa gesê.

Moolman het gesê herwinning in Suid-Afrika kan nie volhoubaar wees voor armoede en werkloosheid aangespreek word nie. Hy het verduidelik dat dit in luukser areas soos Tuscany Ridge makliker sou wees om herwinning te implementeer, omdat meer ontwikkelde areas nie soveel geld vir instandhouding soos minder ontwikkelde areas verg nie.

Die munisipaliteit het vanjaar R120 000 per wyk beskikbaar vir dienste aan inwoners. Al verskil die grootte en populasie per wyk, bly die bedrag konstant.

Wyk 9 van die Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit, ’n gedeelte van Mohadin, het byvoorbeeld volgens Wazimap se sensusopname in 2011 ’n bevolkingsyfer van 7 592 gehad. Toe het 79% van die inwoners elektrisiteit gehad, 19,2% geen toegang tot enige toilette nie en 55,1% dienste ontvang wat rommel verwyder.

2011 het daar in wyk 14 in Ikageng 4 468 mense gewoon. Toe het 99,3% elektrisiteit gehad, 3% geen toegang tot enige toilette nie en 99,1% dienste ontvang wat rommel verwyder. Albei wyke moes toe ook met dieselfde begroting die wa deur die drif trek.

Herwinning is duur. Moolman het gesê om herwinningsdienste te implementeer moet daar onder meer personeel wees om die herwinbare materiaal apart van gewone rommel op te laai, ’n fasiliteit vir sortering en chemiese prosesse, asook die nodige masjinerie. Tlokwe-Ventersdorp het dit nie.

Potchefstroom se inwoners is dus genoop om van vier herwinningsmaatskappye in die privaatsektor gebruik te maak. Volgens Dewald van Breda, voorsitter van die Potchefstroom-Tlokwe-sakekamer en eienaar van die herwinningsmaatskappy Potch Plastics, is al die aanlegte in Potchefstroom “redelik besig.”

Maphosa het gesê die munisipaliteit probeer om minstens 30% herwinbare materiaal uit die rommelsiklus te ontgin om sodoende meer spasie op die munisipale stortingsterrein te skep. Informele ontginning van herwinbare materiaal vind tussen die verwydering van rommel by huise en (ook by) die opvullingsterrein plaas.

Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit se syfers wys daar is verlede jaar 2 423,92 ton herwinbare materiaal uit die stortingsterrein in Potchefstroom ontgin. Teen einde Maart vanjaar het dié syfer op 304,44 ton gestaan.

Volgens Maphosa benader die munisipaliteit herwinning deur middel van bewusmakingsveldtogte. Veldtogte word by kleuter-, hoër- en laerskole gehou en praatjies word op Aganang FM uitgesaai.

“Ons omgewingsafdeling het skole die  laaste paar jaar van herwinningsdromme voorsien en sommige verskaf steeds herwinbare materiaal aan die herwinningsmaatskappye,” het Maphosa gesê.

Ruben Jacobs, hoof van die Laerskool Mooirivier, het bevestig dat die munisipaliteit ongeveer vyf jaar gelede herwinningsdromme by dié skool geplaas het, “maar hulle [die munisipaliteit] kom haal dit [die afval] in elk geval nie”. Jacobs het gesê sedertdien was daar “geen pamflet, praatjie of besoek nie”.

Volgens die hoof van die Hoërskool Ferdinand Postma, Antoon Labuschagne, was die munisipaliteit “nog nooit” by hulle met ’n bewusmakingsveldtog nie. Lebogang Setsiba, sekretaresse by Ikageng Primary School, is ook nie bewus van enige bewusmakingsveldtogte wat onlangs deur die munisipaliteit by dié skool gehou is nie. Ra’eesah Haffejee, wiskunde-onderwyser by Promosa Primary School, weet van bewusmakingsveldtogte by hulle, maar is nie seker of dit met die munisipaliteit verband hou nie.

Al vier skole het wel herwinningsdromme op die terrein.

Die Tlokwe-Ventersdorp-raad beoog om die herwinningsforum wat in 2011 gestig en toe weens politieke invloede ontbind is, te hervestig. ’n Gedeeltelik-elektroniese fasiliteit by die stortingsterrein wat die rommel op ’n vervoerband sorteer, word ook beplan – die rommel word nie by die huishoudings geskei nie. Hulle wil ook die bestaande tuinafvaltoevoerstasie uitbrei, het Maphosa gesê.