“Mense weet nie hoe hulle praat” – prof. Daan Wissing

Standard

(Nota: Hierdie onderhoudsprofiel is in September vir klasdoeleindes geskryf.)

Prof. Daan gesels oor die onverwagsheid en sistematiek van spraakklanke, tegnologie en “aftrede”.

Prof. Daan Wissing, skuif rats agter sy rekenaar in met die talle oop lêers aan die onderkant van die skerm. Die beelde in die lêers lyk amper soos ’n hartklop – golwe en vibrasies wat effe aan dié in Fisiese Wetenskappe herinner.

Hy is ’n doener. Prof. Daan gesels nie lank voor sy geesdrif om te demonstreer hom takel nie. Die onverwagsheid en sistematiek van spraakklanke prikkel hom. “Dat ’n mens praat soos jy praat en nie weet jy praat só nie,” sê hy rustig met sy hande in mekaar gevou. “Kom ek kyk sommer of ek vir jou ’n voorbeeld kan gee.”

 

21533616_816709665178328_2003189208_o

Prof. Daan Wissing, deskundige in fonetiek en fonologie, sê dit is onthullend oor die menslike wese wat glad nie weet hoe hulle praat nie.

 

Daar is ongeveer tien sekondes stilte terwyl hy rondklik. Dan begin hy praat.  “Byvoorbeeld as ‘n mens nou gaan luister na die nuus van RSG (Radio Sonder Grense) – die mense sê hulle behoort Standaardafrikaans te praat as hulle die nuus lees. En dan doen hulle allerhande goed soos die gewone assimilasie – ‘minder’, sommer net ‘minner’ en nie ‘minder’ nie of ‘allerande’ en nie ‘allerhande’ nie.”

Prof. Daan is ’n senior navorser by die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat volgens hul webtuiste menslike taaltegnologie navors en taaltegnologiese produkte vir Suid-Afrikaanse tale skep.  Hoewel hy reeds meer as 16 jaar gelede “afgetree” het, is hy op sy pos agter die lessenaar met die talle elektriese drade, rekenaarmuise, geheuestokkies en oorfone op. Soos Prof. Daan daar in sy kantoor sit, kamer 125 van die Frans du Toit-gebou (E9), het hy Februarie vanjaar 76 geword.

Hy glimlag terwyl hy verduidelik. Hy verwys na ’n minder bekende verskynsel wat hom tydens weervoorspellings opgeval het. “As hulle nou by Cradock kom, dan ‘Crarock’ hulle. Dit het ek nooit raakgeluister nie.” Toe hy op ’n databasis van nuusbulletins spesifiek soek vir gevalle waar ’n ‘-d-’ tussen twee vokale staan, het onder meer “Vrerendal” (Vredendal) en “misdarigers” (misdadigers) verskyn.

“Misdarig.” Hy kyk my stip in die oë en vra of ek daarvan bewus is. Ek is nie. “Niemand weet dit nie. Ek luister al meer as veertig jaar lank na Afrikaans met die oog op beskrywing van goed en ek het dit nog nooit agter gekom nie,” sê hy.

‘Hanne’ (hande), ‘tanne’ (tande), ‘perre’ (perde), ‘wille’ (wilde), ‘innie’ (in die) en ‘oppie’ (op die) kom meer algemeen voor.

Die sistematiek agter uitsprake interesseer hom, omdat “jy nie sommer enige ding kan verander nie.” “Net in bepaalde omstandighede, dikwels in bepaalde style van praat, gebeur daar goed met taal wat heeltemal sistematies is waarvan ons heeltemal onbewus is en dit interesseer my.”

Hy sê mense kan byvoorbeeld die ‘-r-’ in “Vereeniging” weglaat en “Ve-eeniging” sê, maar nie “ooi” in plaas van “rooi” sê nie.

Prof. Daan werk tans aan ’n vier jaar lange projek vir Taalportaal wat einde 2018 volledig behoort te wees. Op dié aanlynplatform vir Nederlandse, Afrikaanse en Friese taalkunde, skryf hy die afdelings oor Afrikaanse fonetiek en fonologie.

“Dit is ’n volledige, omvattende grammatika van die Afrikaanse fonetiek en fonologie en hy kom uiteindelik in hierdie formaat op die internet wat baie Wikipedia-agtig is, so jy kan alles interkatief gaan soek,” sê hy met sy linkerwys- en duimvinger wat sy gesig ondersteun en sy regterhand wat na die rekenaar wys.

 

21439435_816709708511657_1281007226_o

Prof. Daan verduidelik hoe hy verskynsels sien en hoor om dit as voorbeelde van sy teorieë te bevestig.

 

Hy sê in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014) fonetiek bestudeer “die produksie, oordrag en persepsie, van afsonderlike spraakklanke” en fonologie  “die werking van daardie klanke”.

“Dis nou hulle hierdie,” snuffel hy op Taalportaal se tuisblad.  Hy lag onverwags, daar is sy foto sommer. “Toevallig is daar iets van my op. Hulle (Taalportaal) vervang hulle (foto’s van die navorsers op die tuisblad) so elke paar minute en myne was nou juis toevallig daar op.”

Die voëls kwetter deurgaans en in die omliggende kantore klink dit gesellig. Iemand lag ’n paar keer in die agtergrond.  Party moet reeds op middagetebreek wees.

Hy sê baie van die werk vir Taalportaal is al gedoen, maar nog nie op die webwerf gelaai nie. “Ons moet dit in Engels skryf want die internasionale gemeenskap moet dit kan lees en verstaan,” hy sug liggies. “As ‘n mens dit in Afrikaans skryf, al gaan dit oor Afrikaans, gaan baie mense dit nie kan lees nie.”

Die tegnologiese spronge in sy veld sedert die beginjare is vir hom verbysterend. “In die outyd moes jy maar sit en voorbeeldjies uitdink, dan skryf jy dit op en die mense moet jou maar glo. Maar met hierdie ding (Taalportaal) kan jy nou die klank insit en dan kan hulle self gaan luister.”

Nou het hy byvoorbeeld ’n databasis van RSG-nuusbulletins waar hy die verskynsels en die sprekers van sy keuse kan intik om te sien hoe gereeld dit voorkom.

Hy gly weer vinnig met sy stoel rekenaar toe. “Ek is nou verleid om vir jou iets te wys. Sê nou maar die woord ‘nadat’… sou jy sê daai ‘-d-’ kan ’n ‘-r-‘ word? ‘Narat’?” Hy speel al Johann Russouw se nadats. Praat, ’n toepassing wat dit onder meer moontlik maak om die klankgolwe van ’n woord te sien en waar dit in iemand se mond vorm, maak dit makliker om ’n verskynsel te verduidelik.

My dear, my dear, daar was nog nie eers ‘n woord soos taaltegnologie toe ek my doktorsgraad gedoen het nie en dis 1971. Ek het eers hier in die laat tagtigs met hierdie goed begin,” sê hy toe ek vra of die doktorsgraad wat hy in Utrecht (Nederland) gedoen het in Taaltegnologie was. Dít het hy in Algemene Taal- en Literatuurwetenskap gedoen.

Hy reis begin Oktober saam met sy vrou, Marié, na Wene (Oostenryk) om saam met ’n oorsese medewerker ’n artikel af te rond. Prof. Marié is eintlik ook “afgetree” en is tans ’n navorsingsprofessor by die NWU se Gesondheidswetenskappe. Sy is ’n spreker by ’n  internasionale kongres in Innsbruck (Oostenryk).

Ná talle bekronings en internasionale reise vir sy navorsingswerk, twee Comerades-marathons en twee Ysterman-driekampe, wat is die volgende mylpaal? “Jong ek werk nie meer met sulke groot mylpale nie.” Om die onderskeie verskynsels van die fonologiese prosesse volledig te bespreek  en vorige werk met nog voorbeelde te verryk is van sy eerskomende doelwitte.

Een van sy studente-assistente kom in om haar werk wat tot sy databasis bydra op ’n geheuestokkie vir hom te gee. “Het dit maklik gegaan, kan ek dit maar vir jou teruggee as dit half gedoen is?” spot hy voor sy loop.

“Ek is afgetree, maar nog nie morsafgetree nie,” sê hy laggend. Vir die egpaar is dit daagliks ’n brandende vraag – wanneer om uiteindelik af te tree. “Jy vra ’n vraag wat ek en my vrou wat ’n professor in Sielkunde is…,” sê hy onsamehangend toe ek vra wanneer gaan hy weet hy moet stop. “Ek en my vrou is nog van die ou geslag akademici. Ek praat nie eers van vakansie nie. Die week in Innsbruck wat sy by die kongres is, het ek ‘n groot stuk werk wat ek wil afhandel.”

Hoewel hulle basies dag en nag, naweke en vakansies werk, werk,werk, is hulle baie lief vir die natuur en oefening is en stap dus daagliks langs die dam.

Intussen is daar ’n groot waarskynlik dat Prof. Daan jou kan voorkeer om sekere woorde uit te spreek.

Advertisements

Plek met die swart bank

Standard

My Potch-huis is F25 op die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus (NWU-Puk). Een  gemaklike swart bank, ’n paar rekenaars en ’n lessenaar is omtrent al wat dit het, maar dit het al (en doen steeds) talle haweloses van die samelewing gehuisves.

 

Wapad, huis van die eksentrieke, die kleurvolle, die talentvolle, die nuuskierige, die naamlose, die ongeklassifiseerde.

 

My gunsteling plek in Potch is die Wapad-kantoor. Wapad is die studentekoerant van die NWU-Puk.

Wapad, huis van die eksentrieke, die kleurvolle, die talentvolle, die nuuskierige, die naamlose, die ongeklassifiseerde. Die plek waar lewenslange familiebande daagliks vorm.

As eerstejaar in 2014 het Wapad se deur vir my na ’n wêreld van aanvaarding, liefde en lewenswysheid oopgegaan. Ons loop nie met ons nuusneuse in die lug nie, behalwe wanneer ons stories uitsnuffel.

“Ons” – ek assosieer my steeds met Wapad, hoewel ek nie meer amptelik in dié nuuskantoor werk nie. Ons bly familie. Anders is dit so goed ek is nie meer van my ouers familie wanneer ek nie huur bydra nie, nè? Dít is steeds my tuiste en weerhou my nie om daagliks my huis en familie te besoek nie.

Die huisbewoners het al telkemale die son saam sien opkom terwyl daar laaste veranderinge voor saktyd aangebring moes word, of selfs wanneer hulle irrelevante klasopdragte vir die volgende dag moes voltooi.

Want Wapad is álles en wanneer jy hier betrokke is voel jy asof jy voltyds werk en deeltyds studeer. Op die swart Wapad-bank is middagslapies en nagrussies al ingewerk. Hier is al gedans, gehuil en baklei.

Dié nuuskantoor verloor net nie sy aantrekkingskrag nie. Dis die plek waar ek as “Wapad-baba” leer loop en grootgeword het. Waar ek eintlik vir die mediabedryf geskool is. Dit is my ouerhuis op die Potch-kampus. Ek en my Wapad-broers en –susters is lief vir mekaar en wanneer ek op kampus is, sal my voete my altyd na die deur op die hoek van F25 lei.

(Kyk hoe eet ek en Jeanelle koek op Wapad se 70ste in 2016!)

17632172_10210905110695292_1057529894611039027_o.jpg

Van die ou en huidige redaksielede het op 1 Maart 2017 graad gevang.

13147698_10208118655798030_2463034019399706656_o

Redaksielede wat Wapad in 2016 by Perdeby (Tuks) se mediakonferensie verteenwoordig het.

12970865_1003822326353330_1806960745169982167_o

Ek en Jeanelle Greyling (oud-redakteur) druk koek in ons gesigte ter viering van Wapad se 70ste in 2016.

12983179_1003821603020069_3347791962830027557_o.jpg

Wapad se 70ste (2016).

12045727_10206604798512544_8145027562506743688_o

Wapad-dinee van 2015.

12670395_10207360362425061_8924786857574959546_n

Puk-Kunste het wyn geskenk. Ons drink dit nå saktyd. (2016)

Drenkeling

Standard

Ek

wil hê

jy moet

vir my h u i l,

dat ek die sout van

jou siel kan opslurp,

om te weet of jy suiwer

bedoelings met my het.

Asseblief huil, sodat ek kan

weet of jou water vars is of nie

…hou nou asseblíéf op huil,

want ons v e r d r i n k

in die brakwater

 

April 2015

 

Naglig

Standard

(Vir C, my eerste liefde)

Bedags hardloop ek deur jou woud

om jou te verken

    opsoek na die warmte van jou son

       maar wanneer ek nader

         beweeg jy verder om my

    verward en verlore te laat.

                           Ek het elke dag in jou bos baljaar

                              totdat ek besef het: ek kan die bome

              nie deur die bos sien nie.

  Nou sit ek maar as dit skemer raak

      op my stoepmuur met bene wat oorhang

       en ’n bottel Tassies in die mond

    om jou pragkontras te waardeer

want dit is donker in jou woud en ék,

slaap met my naglig aan.

April 2015

Kamerwasbak

Standard

(Vir S)

Jóú wil ek uitkots

soos gist’raand se mengsel rosé, vodka en lime, brandy en coke, en slaptjips.
Ek wens.
Sommerso in my kamerwasbak – dis vinniger.
Dié konkoksie –
Twee totjies sjarme
’n Moerse lot vals hoop
’n Lekseltjie misterie
Net-genoeg WhatsApp-boodskappe en
’n skyfie waansin aan die kant van die glas –
waarmee jy my bedien, plaas my ’n ruk in vervoering.
Tot die suur die volgende dag in my keel wegkruip. Ek beteken niks …
met hierdie kopseer en naarheid wil ek nie eers opstaan nie.
Galbitter.
Omdat ek eintlik net in jou baard verstrengel wil wees, wurg ek aan my gedagtes oor jou.
Omdat ek eintlik net jou geïnkte seekathandjie wil vashou, is daar swart blertse op my hart.
Sodra ek byna aan jou verstik en die trane rol en ek opstaan
staan ek weer agter jóú toonbank…
Kan ek asseblief ’n double vodka and lime on the rocks kry, bartender?

09/07/2016

Illustrasie: Kirsten Ulve