Waterbeperking

Standard

Ek vrek van die dors.

Ek vrék

van die dors na jou.

Die middernagtelike nadors hou my uit die slaap.

 

Vir jou spaar ek graag JoJo-tenks vol van my water.

(jou landskap bly mos so dor)

Ek wil jou grond daarmee voed.

 

Maar die water wat ek jou gee verdamp net.

Hierdie is nie liefde en koue water nie:

Dis ek wat my hand doelbewus bo ‘n ketel hou.

Dis jy wat my water mors deur jou tuin nat te maak

wanneer die son op sy warmste is.

 

Ek sou maar ge-settle het vir ‘n 500ml-botteltjie van jou water, as jy dit net sou gee.

Regtig.

Want in my drome lei jy my na ‘n bad wat oorloop.

 

Maar.

My reservoir is byna uitgeput en ek moet waterbeperkings instel.

My sielsgrond wil niks meer laat groei nie.

 

En om die waarheid te sê is ek sat vir

hartseer gedigte wat versuip in bittersoet waters van ironie.

Dié see gevoelens neem my waar ek nie meer kan trap nie.

Ek is nie ‘n sterk swemmer in hierdie onbruikbare water nie.

 

Ek kan nie besluit of ek verdrink of swem nie.

 

(Vader, gee assblief reën

en gee my die krag om dit nie weer vir hom  op te gaar nie.

Want ek sal.)

 

Dit maak nie saak hoeveel mense hulle JoJo-tenks vir jou aandra nie,

jou grond absorbeer, maar dit bly droog.

 

 

 

(Julie 2018)

Advertisements

Drenkeling

Standard

Ek

wil hê

jy moet

vir my h u i l,

dat ek die sout van

jou siel kan opslurp,

om te weet of jy suiwer

bedoelings met my het.

Asseblief huil, sodat ek kan

weet of jou water vars is of nie

…hou nou asseblíéf op huil,

want ons v e r d r i n k

in die brakwater

 

April 2015

 

Naglig

Standard

(Vir C, my eerste liefde)

Bedags hardloop ek deur jou woud

om jou te verken

    opsoek na die warmte van jou son

       maar wanneer ek nader

         beweeg jy verder om my

    verward en verlore te laat.

                           Ek het elke dag in jou bos baljaar

                              totdat ek besef het: ek kan die bome

              nie deur die bos sien nie.

  Nou sit ek maar as dit skemer raak

      op my stoepmuur met bene wat oorhang

       en ’n bottel Tassies in die mond

    om jou pragkontras te waardeer

want dit is donker in jou woud en ék,

slaap met my naglig aan.

April 2015

Kamerwasbak

Standard

(Vir S)

Jóú wil ek uitkots

soos gist’raand se mengsel rosé, vodka en lime, brandy en coke, en slaptjips.
Ek wens.
Sommerso in my kamerwasbak – dis vinniger.
Dié konkoksie –
Twee totjies sjarme
’n Moerse lot vals hoop
’n Lekseltjie misterie
Net-genoeg WhatsApp-boodskappe en
’n skyfie waansin aan die kant van die glas –
waarmee jy my bedien, plaas my ’n ruk in vervoering.
Tot die suur die volgende dag in my keel wegkruip. Ek beteken niks …
met hierdie kopseer en naarheid wil ek nie eers opstaan nie.
Galbitter.
Omdat ek eintlik net in jou baard verstrengel wil wees, wurg ek aan my gedagtes oor jou.
Omdat ek eintlik net jou geïnkte seekathandjie wil vashou, is daar swart blertse op my hart.
Sodra ek byna aan jou verstik en die trane rol en ek opstaan
staan ek weer agter jóú toonbank…
Kan ek asseblief ’n double vodka and lime on the rocks kry, bartender?

09/07/2016

Illustrasie: Kirsten Ulve